Die eiendom waarop ons retrêthuis geleë is, is 'n kleinhoewe ongeveer drie kilometer buite die dorp Robertson en het 'n asemrowende uitsig op die Langeberge. Dit is die ideale uitspanplek vir siele wat smag na stilte en is tot die beskikking van enigiemand wat eerlik en opreg soek na God. In die kapel, gewy aan die Heilige Maria, die Egiptenaar, (seker een van die merkwaardigste vroue in die Kerk se geskiedenis; wie se verhaal binnekort op ons webblad sal verskyn) kan mense in 'n Ortodokse atmosfeer mediteer en bid.
Die retrêthuis is ook die basis vir 'n Ortodokse uitreiking na die gemeenskap van Robertson en omgewing.
Hieronder volg 'n paar fotos van die omgewing van die retrêthuis.
Die koepel van die kapel, soos gesien van die agterkant van die kapel.
Onder by die dam.
Tussen die wingerde, foto geneem van die plaaspad af.
Nog 'n foto gedurende die winter, 2007
HOE OM BY ONS TE KOM:
As 'n mens van Worcester se kant af Robertson binnery, draai jy by die derde straat, Paul Krugerstraat (tussen die Spar en KFC) links. Ry tot heel aan die einde van Paul Krugerstraat, tot by die heel laaste stopstraat waar daar 'n aanduiding is na links "Dassieshoek" en "Keurkloof". Draai links na Dassieshoek en Keurkloof. Die straat se naam is Paddystraat. Hou aan met hierdie straat, oor verskeie stopstrate, verby Droë Heuwel. By Droëheuwel ('n HOP-huis woongebied) word die pad 'n grondpad. Kort na dit 'n grondpad geword het, is daar 'n bordjie wat Keurkloof regs aandui. Draai regs in Keurkloof. Na ongeveer 3 km sien 'n mens die kerk vir die eerste keer, as 'n mens om die laaste draai gegaan het. Baie maklik! Om om te som: Links in Paul Krugerstraat, links in Paddystraat en regs in Keurkloof. Dit is so eenvoudig!
OPSOMMING VAN 'n BESONDER INTERESSANTE PRAATJIE DEUR METROPOLIET KALLISTOS WARE OOR WAT DIT BETEKEN OM GERED TE WORD:
Opsomming, deur Macrina Walker, van 'n praatjie deur
metropoliet Kallistos Ware oor verskillende begrippe van Verlossing. Vertaal
deur vr. Zacharias en Danie Loubser.
Metropoliet Kallistos begin
deur 'n redelik tipiese verhaal te vertel waar iemand op 'n trein hom gevra het:
"Is jy gered?" Hoe moet 'n mens hierdie vraag beantwoord? En hoe moet
ons as Christene verlossing verstaan?
Hy
gaan dan voort deur daarop te wys dat die Nuwe Testament nie maar 'n enkele
manier van verstaan van die verlossende werk van Christus gee nie, maar dat
daar inteendeel 'n hele reeks beelde en simbole langs mekaar gestel word.
Hierdie simbole is van diepgaande betekenis en krag, hoewel dit grotendeels nie
verduidelik word nie, maar gelaat word om vir sigself te spreek. Hy stel voor
dat ons nie een beeld van Christus se werk moet isoleer nie, maar die
verskillende beelde liewer saam moet beskou. In hierdie praatjie sal hy
moontlike modelle van verlossing na vore bring, maar hierdie modelle is nie
volledig is.
Onderliggend aan al ses modelle is die een fundamentele
waarheid, naamlik dat Jesus Christus, as ons Redder, iets vir ons gedoen het
wat ons nie alleen of op ons eie sou kon doen nie.
Metropoliet Kallistos stel
dan 4 vrae om ons te help om elke model te evalueer.
- Veronderstel dit 'n verandering in God, of in
ons? Party teorieë oor Christus
se reddende werk gee skynbaar te kenne dat God toornig is teenoor ons, en
dat wat Christus gedoen het, God se toorn bevredig het. Maar dit kan nie korrek wees
nie. Dit is ons wat moet verander; nie God nie. Soos Paulus dit stel:
"God het in Christus die wêreld met Homself versoen." (2 Kor. 5:19)
- Skei dit Christus van die Vader? Party teorieë gee skynbaar te kenne dat God die
Vader Christus straf wanneer hy aan die Kruis sterf. "Ek onthou hoe
ek as student in Oxford
die groot evangelis Billy Graham hoor sê het: 'Die oomblik toe Christus aan
die kruis gesterf het, het die weerlig van God se toorn Hom getref in
plaas van jou.' Ek het dit nie 'n gepaste manier gevind om oor Christus se
werk te dink nie. Ons moet Christus tog sekerlik nie op dié manier van die
Vader skei nie, want hulle is een God, lede van die heilige Drie-eenheid.
Soos Paulus dit in die woorde stel wat ek so pas aangehaal het: 'God was
in Christus.' Wanneer Christus ons red, is dit God wat in Hom aan die werk
is; daar is geen skeiding nie."
- Isoleer dit die kruis van die Vleeswording en
die Opstanding? "Ons moet
aan Christus se lewe dink as 'n enkele eenheid. So ons moet nie net aan
die kruis dink nie, maar moet dink aan wat die kruis voorafgegaan het, en
aan wat daarop gevolg het."
- Veronderstel dit 'n objektiewe of subjektiewe
begrip van Christus se werk?
"Spreek Christus se reddende werk bloot tot ons gevoelens, of het Hy
iets gedoen om ons objektiewe situasie op 'n werklike en realistiese wyse
te verander?"
Eerste Model: Leraar
Ons kan eerstens aan Christus dink as leraar, as die
een wat die waarheid aan ons openbaar, wat die lig bring en die duisternis van
onkunde uit ons denke verdryf. Hy, "die ware Lig wat elke mens verlig, was
aan kom in die wêreld."
Jn. 1:9 Hy
red ons deur ons die waarheid oor God te leer. Dit was presies die wyse waarop
sy dissipels aan die begin aan Hom gedink het toe hulle Hom "Rabbi"
genoem het, wat leraar beteken. Later het hulle natuurlik besef dat Hy nie maar
net 'n menslike leraar was nie, maar veel meer. Hierdie eerste model is veral
aanvaar deur 'n groep skrywers van die tweede eeu wat bekend staan as die
Apologete, van wie die mees befaamde Justinianus die Martelaar was.
By die oorweging van die vier vrae, wys metropoliet
Kallistos daarop dat die eerste drie vrae beantwoord word, want die verandering
is in ons en nie in God nie, daar is geen skeiding tussen Jesus en die Vader
nie, en dit isoleer nie Kruis nie, maar omvat Christus se hele lewe. Probleme
ontstaan egter oor die vierde vraag:
Christus maak ons denke
oop, maar laat Hy dit dan aan ons oor om sy leer deur ons eie pogings uit te
voer? Het hy ons objektiewe situasie werklik verander? Meer spesifiek: Dit is
nie net vir ons nodig om onderrig te word nie, maar om van sonde verlos te
word. Hierdie eerste model omvat dus 'n gedeelte van die waarheid, maar nie die
geheel nie, want dit laat die tragedie en die nood van sonde buite rekening.
Tweede Model: Losprys
Die tweede beeld is dié van Christus wat 'n losprys
namens ons betaal, "want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien
te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie." Mk. 10:45 Die betekenis van hierdie
metafoor is dat terwyl ons voorheen die slawe van die sonde was, ons nou bevry
is, want "Christus (het) ons vrygemaak." Gal. 5:1 Dit is 'n duur losprys wat die aflê van Christus se lewe
aan die Kruis behels. Metropoliet Kallistos sê egter verder:
Laat
ons in gedagte hou dat dit bloot 'n beeld of 'n metafoor is, nie 'n
sistematiese teorie nie; en laat ons daarom nie die metafoor te ver voer nie.
Dit is wys om nie te vra: "Aan wie word die losprys betaal?" nie. Die
Nuwe Testament stel trouens nie werklik daardie vraag nie. As ons sê: "Die
losprys word aan God die Vader betaal", loop ons die gevaar om Christus
van sy Vader te skei en te dink aan die Vader as sou Hy kwaad en wraaksugtig
wees, en betaling eis. God is tog sekerlik nie so nie: Hy eis nie betaling nie,
maar vergewe ons vryelik. Moet ons dan sê dat die betaling aan die duiwel gedoen
word? Dit is 'n antwoord wat die Vaders, Grieks sowel as Westers, dikwels gegee
het, maar dit skep groot probleme. Dit gee skynbaar te kenne dat die duiwel
regte oor en aansprake op ons het, en dit kan tog nie waar wees nie. Die duiwel het
geen regte nie; hy is 'n leuenaar. Die wesenlik punt van die metafoor is nie
dié van transaksie of skikking nie, maar van bevryding. Dit is beter om nie te
vra wie betaal word nie, maar om te hou by die basiese punt: Christus het ons
vry gemaak.
By die toepassing van die vier evaluasie-vrae kom
metropoliet Kallistos tot die slotsom dat daar geen probleme is met die eerste
een nie, want die verandering is nie in God nie, maar in ons. Daar is ook geen
probleem met die tweede vraag nie solank ons Christus nie sien as losprys wat
aan die Vader betaal word nie, want indien ons dit so sou sien, sal daar beslis
die gevaar bestaan dat Christus en die Vader geskei word. Wat die derde vraag
betref: Terwyl die losprys-model fokus op die Kruis, hoef dit nie uitsluitlik
daarop te wees nie, want dit is sy hele lewe wat ons vry gemaak het. En die
vierde vraag toon die krag van hierdie model in vergelyking met die eerste,
want "deur ons vry te maak, het Christus inderdaad ons objektiewe situasie
verander."
Derde
Model: Offer
Wat die offer-model betref, voer metropoliet
Kallistos aan dat ons hier "op gevaarlike terrein verkeer". Vandag
het die gedagte van offer baie van die betekenis daarvan verloor, terwyl dit in
die antieke wêreld vanselfsprekend was. Die Ou Testament het verskillende
soorte offers geken, tog vind ons nie 'n omskrywing daarvan of hoe dit werk
nie. In die Nuwe Testament
word Christus gesien as voldoening aan
die offers van die Ou Verbond, veral op
twee maniere:
i: "Ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik
Christus" l Kor 5:7; "Dáár
is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem" Jn. 1:29. Hier word Christus gesien as
die Paaslam, wat deur die Jode geëet is by die Pasga ter gedagtenis aan die
Exodus uit Egipte (Sien Ex. 12). Christus
se dood aan die Kruis en sy Opstanding is die Nuwe Pasga.
ii: "Hy is 'n versoening (hilasmos) vir ons sondes" (l
Jn. 2:2). Dit gedenk die offer-ritus op die Joodse Versoendag (Joom
Kippoer), wanneer die volk met bloed besprinkel is om hulle van hul sondes te
reinig (Lev. 16:23, 27-32). Op
soortgelyke wyse reinig die bloed van Jesus, wat vir ons geoffer is, ons van
alle sonde (l Jn.1:7). Die offer van
die Versoendag word veral gedenk wanneer ons Here die Eucharistie instel en sê:
"Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie
uitgestort word tot vergifnis van sondes. (Mt.
26:28)
Metropoliet
Kallistos vra dat ons, ten einde die betekenis van offer te verstaan, moet
begryp
·
dat 'n offer 'n
offer of gawe is wat aan God gegee word;
·
dat 'n ware
offer nie die offer of gawe van die een of ander ding of dier is nie, maar van
onsself;
·
dat die eintlike
doel van offer nie die dood is nie, maar die lewe. "As die slagoffer
gedood word, is dit nie omdat die dood daarvan op sigself van waarde is nie,
maar sodat die lewe daarvan aan God geoffer mag word. Volgens die begrip van
die Ou Testament is die lewe van 'n dier of 'n mens geleë in die bloed, en dus
word die lewe daarvan deur die uitstorting van die bloed vrygestel en
beskikbaar gestel om aan God te offer;
·
'n ware offer
moet noodwendig vrywillig wees.
As
ons dit toepas op die offer van Christus, kan ons sê dat Christus aan God
geoffer word, dat Hy Homself as offerande gee, dat Hy sterf sodat ons kan lewe,
iets wat duidelik gemaak word deur sy Kruis met sy Opstanding te verbind, en
dat Hy sy lewe vrywilliglik neergelê het om ons ontwil.
Onderliggend
aan hierdie gedagte van offer as vrywillige self-opoffering is die heel
belangrikste faktor dié van die liefde. Waarom lê Christus sy lewe neer? Uit
liefde: " omdat hy sy eie mense
in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad het tot die einde toe."
(Jn. 13:1). "Want so lief het God
die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het."
(Jn. 3:16). Die liefde is dan die sleutel tot die hele gedagte van
offer. Offer beteken vrywillige self-opoffering, aangevuur deur die liefde –
die liefde tot die uiterste toe, liefde sonder perke.
Met
ons vier vrae in gedagte sou ons kon sê: Daar bestaan beslis 'n gevaar dat ons
die "offer"-model op so 'n manier kan stel dat dit lyk asof die
verandering in God is, en nie ons nie (vraag 1), dat Christus van die Vader
geskei word (vraag 2), dat die Kruis van die res van ons Here se lewe geskei
word (vraag 3). Maar dié gevaar word grootliks vermy as die liefdes-element beklemtoon
word. In daardie geval word Christus se offer gesien as 'n uitdrukking van God
se onveranderlike liefde; die liefdes-offer verander ons, nie God nie, daar is
geen skeiding tussen Vader en Seun nie. Bowendien is Christus se hele lewe, van
die vleeswording af aan, 'n offer of gawe aan God; en dus word die Kruis nie afsonderlik
gesien nie.
In
aansluiting by die gedagte van offer, onderskei metropoliet Kallistos twee wisselvorme
in verband met hierdie tema.
Derde Model, wisselvorm 1: Voldoening
Dié
teorie is ontwikkel deur Anselmus van Kantelberg (1033-1109), wat die beginsels
van die feodale gemeenskap op versoening toegepas het.
Menslike sondes, het hy aangevoer, het God se eer
aangetas; betaling moet dus aan die Vader gegee word ter vergoeding vir sy
aangetaste eer, en hierdie betaling is namens ons deur Christus gedoen. Al was
dit ook hoe gewild het hierdie teorie twee ernstige nadele.
- Dit vertolk
verlossing volgens wetlike kategorieë, eerder as 'n goddelike liefdesdaad.
- Die opvattings oor
eer en voldoening, hoewel dit middel-eeuse feodalisme weerspieël, word nie
in die Bybel gevind nie.
Derde Model, wisselvorm 2:
Plaasvervanging
Dié
gedagte, dat Christus ons sondes dra en dat Hy ly in plaas van ons, het wel
Bybelse wortels en word gesien as die vervulling van die Ou Testamentiese
prototipes van die offer van die sondebok
(Lev.
16:20-22) en die Lydende Kneg
(Jes.
53: 4-7). Jesus word gesien as sou Hy ons sondes op Hom neem en die straf
verduur wat ons verdien om te ondergaan.
By
die evaluering van hierdie model verklaar metropoliet Kallistos:
Nou, in dié plaasvervangingsmodel is dit duidelik dat
die verandering in ons is, en nie God nie (vraag 1); maar ons moet versigtig
wees om nie die model op so 'n manier te begryp dat dit Christus van God skei,
soos wat Billy Graham ongelukkig gedoen het, nie (vraag 2). Daar bestaan ook
die gevaar dat die gedagte van plaasvervanging Christus se werk in 'n
transaksie kan
omskep wat op 'n manier buite ons gebeur, waarby ons nie direk en onmiddellik
betrokke is nie. Jesus ly inderdaad vir ons sondes, maar ons moet verbind wees
met sy offer-lyding, dit ons eie maak. Dit is geoorloof om te sê:
"Christus in plaas van my", maar ons moet dit balanseer deur te sê:
"Christus namens my", en ook: "Christus in my en ek in
Hom". Die taal van plaasvervanging moet verbind word met die taal van
inwoning.
Vierde Model: Oorwinning
Metropoliet
Kallistos beskryf hierdie model soos volg:
Hier word Christus se verlossingswerk gesien as 'n
kosmiese stryd tussen goed en kwaad, tussen lig en duisternis. Deur aan die
Kruis te sterf en uit die dode op te staan, is Christus die oorwinnaar oor die
sonde, die dood en die duiwel. Dié oorwinning word saamgevat in die laaste
woord wat Hy aan die Kruis geuiter het,
Telelestai
(Jn. 19:30), wat gewoonlik vertaal word as "dit is volbring". Dit
is dus nie 'n uitroep van oorgawe of wanhoop nie, want Christus sê nie:
"Dit is verby. Dit is die einde" nie, maar bevestig: "Dit is
bereik. Dit is vervul. Dit is voltooi.". Vir ander voorbeelde van die oorwinnings-
motif, sien Kolossense 2: 15.
"(God) het, ……die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar
tentoongestel en daardeur (deur die Kruis) oor hulle getriomfeer"; en ook
Efesiërs 4:8: "Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes
gevange neem" ('n aanhaling uit Psalm 68[67]: 18).
Die Kerkvader wat hierdie gedagte van oorwinning
veral gebruik, is Sint Irenaeus van Lyons aan die einde van die tweede eeu. As
'n mens die gedagte van oorwinning uitgeleef wil sien, moet jy veral dink aan
die Middernagdiens van Pasga, met sy voortdurende refrein,
Christos anesti ek nekron, "Christus het opgestaan uit die
dode. Deur sy dood het Hy die dood vertrap." Dink ook aan die wonderlike
preek wat toegeskryf word aan Sint Johannes Chrysostomos wat aan die einde van
die Mette of tydens die Liturgie gelees word, met sy oorweldigende gevoel van
oorwinningsvreugde. Dieselfde toon van vreugde word aangetref in die Latynse
Paasgesange: "Die dood en die lewe het die stryd aangeknoop in daardie
ontsaglike worsteling. Die Prins van die Lewe wat gesterf het, heers
onsterflik."
Die
voordeel van hierdie oorwinningsmodel is dat dit die Kruis en die Opstanding
byeenhou sodat dit gesien word as 'n enkele gebeurtenis: Christus se dood op
sigself is 'n oorwinning, hoewel dit verborge bly. Wanneer die mirredraagsters
na die graf kom en verkondig dat dit leeg is, en wanneer Christus verskyn, word
die oorwinning klaarblyklik.
Die
nadeel van die oorwinningsmodel is dat dit militaristies kan lyk en Christus se werk voorstel as 'n
soort dwingende mag. Dit is dus belangrik om daarop te wys dat hierdie
oorwinning nie een is van 'n groter mag of militaristiese krag nie, maar van
lydende liefde.
Aan
die Kruis is Christus seëvierend deur sy swakheid, deur sy self-ontlediging,
deur sy
kenosis, om die Griekse
uitdrukking te gebruik. Ja, 'n oorwinning dus, maar 'n
kenotiese oorwinning.
Hierdie
kenotiese oorwinning word duidelik wanneer ons die uitroep aan die Kruis
"dit is volbring" koppel aan die heilige Johannes se beskrywing van
die voetwassing waar hy Jesus beskryf as Hom wat hulle liefgehad het
"tot die einde toe" (Jn. 13:1)
Wanneer
Christus sê: "Dit is volbring", telelestai,
wil die Evangelis hê ons moet terugdink aan wat vier hoofstukke vroeër gesê
is: "Omdat Hy sy eie mense liefgehad
het, (het Hy) hulle liefgehad tot die einde toe.", eis telos. Hieruit
verstaan ons presies wat aan die Kruis volbring is: Dit is die oorwinning van
die liefde. Ten spyte van al die lyding, liggaamlik en geestelik, wat Hom aangedoen
is, gaan Jesus voort om die mensdom lief te hê; sy liefde verander nie in haat
nie. Ons moet die oorwinning dus sien, nie as 'n militêre oorwinning nie, maar
as 'n oorwinning van lydende liefde, onveranderlike liefde, liefde sonder perke.
Soos die Protestantse teoloog Karl Barth gesê het: "Die God van Christene
is groot genoeg om nederig te wees." En dit is wat ons bo alles in sy
oorwinning aan die Kruis sien. God is nooit sterker as wanneer Hy op sy swakste
is nie.
Vyfde Model: Voorbeeld
Hierdie
model word vereenselwig met nog 'n westerse skrywer, Petrus Abelard
(1079-1142/3), wat Christus se lewe en dood sien as die hoogste voorbeeld van
die liefde in werking en wat 'n reaksie by ons ontlok en ons uitlok om hierdie
liefde na te streef. Metropoliet Kallistos wys daarop dat baie hedendaagse
westerse Christene deur hierdie model aangetrek word, want dit beweeg heeltemal
weg van die gedagte van God wat toornig, jaloers, wraaksugtig en bloeddorstig
is, en van wetlike kategorieë soos voldoening of betaling. Daarbenewens skei hierdie
model Christus nie van die Vader nie en ook nie die Kruis van die res van
Christus se lewe nie.
Maar die probleem lê by vraag vier. As Christus bloot
'n voorbeeld vir ons gestel het, beteken dit dat ons dan daardie voorbeeld moet
navolg deur ons eie inspanning? Het Christus dinge objektief verander?
Metropoliet
Kallistos voer aan dat hierdie model, as dit reg verstaan word, gesien kan word
as 'n model wat aandui dat 'n objektiewe verandering in ons situasie
plaasgevind het, want "die liefde is 'n objektiewe energie in die
heelal."
Die liefde is 'n skeppende, bemagtigende krag. Ons
liefde verander die lewens van ander. En as dit waar is van ons menslike
liefde, is dit soveel meer waar van die goddelik-menslike liefde van Christus
ons Heiland. Deur ons lief te hê, stel Hy nie net vir ons 'n voorbeeld nie,
maar verander Hy die wêreld vir ons, en gee Hy ons 'n betekenis en hoop wat ons
nie op 'n ander manier sou kon ontdek nie. Die liefde van iemand anders vir my deurdring
my dus met 'n gedaante-veranderende mag, 'n herskeppende krag. Die liefde
bemagtig, net soos wat haat ontmagtig. Dit is waar wat betref ons
tussenmenslike verhoudings, maar dit is soveel meer waar van die liefde wat
deur die Seun van God op ons uitgestort word. Waar liefde ter sprake is, verval
die teenstelling van subjektief/objektief.
Metropoliet
Kallistos wys dan daarop dat dit hierdie tema van lydende liefde is wat die
derde, vierde en vyfde modelle verenig, as hulle reg verstaan word.
Wat Christus se dood 'n verlossende offer maak, is
juis dat Hy Homself vrywilliglik in liefde offer (model 3). Die oorwinning van
Christus is niks anders nie as die oorwinning van kenotiese, lydende liefde nie
(model 4). En die voorbeeld van hierdie lydende liefde verander ons lewens en
vul ons met genade en krag (model 5).
Sesde Model: Wisseling
Dié
model word begryp as 'n wedersydse deling, en neem die Vleeswording as
vertrekpunt. Daarin neem Christus ons menslikheid aan "en in ruil
daarvoor, stel Hy ons in staat om in sy goddelike genade en heerlikheid te
deel."
Soos Paulus dit stel wanneer hy op figuurlike wyse
praat in terme van rykdom en armoede. "Alhoewel (Hy) ryk was, (het Hy) ter
wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kan word." (2 Kor. 8:9) Die rykdom van Christus is sy hemelse heerlikheid; ons
menslike armoede beteken ons gevalle toestand, ons vervreemding en
gebrokenheid. Christus deel in ons gebrokenheid – in ons nood, eensaamheid, ons
verlies aan hoop – en so word ons by wyse van wisseling in staat gestel om te
deel in sy ewige lewe, waar ons "deelgenote kan word van die goddelike
natuur"
(2 Petrus
1:4).
Die heilige Irenaeus van Lyons stel dieselfde punt op
'n meer regstreekse wyse: "In sy eindelose liefde het Hy geword wat ons
is, om ons so te maak wat Hy is." Sint Athanasius van Alexandrië (c.
296-273) sê kortom: "Hy het mens geword sodat ons God kan word." Ons sou die sinsnede ook so
kon vertaal: "Hy het vlees aangeneem, of het vermenslik, sodat ons
vergoddelik mag word."
Dié sesde model moedig ons aan om aan verlossing te
dink as teose of vergoddeliking:
Verlossing is nie net 'n verandering in ons wetlike status voor God nie, dit is
nie net 'n nabootsing van Jesus deur morele inspanning nie, maar dit dui 'n
organiese, alles-omvattende herskepping van ons geskape menswees deur opregte
deelname aan die goddelike lewe. Hierdie sesde model kan eweseer uitgedruk word in terme van genesing. Sint Gregorius van Naziansus
(329-389), of Gregorius die Teoloog, soos hy in die Ortodokse Kerk bekend
staan, bevestig met betrekking tot die Vleeswording: "Wat nie aangeneem
word nie, word nie genees nie." Dit wil sê Christus het ons menslikheid
volledig met ons gedeel – Hy het ons menslike natuur volledig in Homself
opgeneem – en ons sodoende genees en verheerlik.
Ek word gered
Metropoliet
Kallistos sluit af deur aan te toon dat daar ander aspekte van verlossing is
wat nie hier bespreek is nie, veral die maatskaplike en kerklike aard daarvan.
Hy
keer dan terug na die vraag oor verlossing wat hy aan die begin van sy praatjie
gestel het: Is ek gered?
Ek sou miskien kon gesê het: "Ja, ek is
gered." Maar sou dit nie miskien 'n bietjie oormoedig wees nie? Lank na sy
bekering op die pad na Damaskus het Paulus die vrees uitgespreek dat hy nie
miskien "terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie. (l Kor. 9: 27) God is getrou en Hy sal
nie verander nie; maar ons mense, so lank ons in hierdie lewe is, het 'n vrye
wil en ons verkeer, tot aan die einde van ons lewens, in gevaar om afvallig te
raak. Soos Sint Antonius van Egipte (251-356) gewaarsku het: "Verwag
versoekinge tot jou laaste asem." Ek is op reis en daardie reis is nog nie
voltooi nie.
Dit
sou egter sinneloos gewees het as hy sou gesê het dat hy nie gered is nie, en:
Daarom was ek van mening dat die beste antwoord wat
ek kon gee, was om te sê: "Ek vertrou dat ek deur God se barmhartigheid gered word. Laat ons, met ander woorde,
die teenwoordige tyd gebruik, maar in die sin van die voortdurende
teenwoordige: Nie "Ek is gered" nie, maar "ek word gered."
Verlossing is dus 'n proses. Dit is nie 'n enkele gebeurtenis nie, maar 'n
voortdurende reis, 'n pelgrimstog wat eers voltooi is wanneer ons ons laaste
asem uitblaas.