Grieks-Ortodokse Patriargaat Alexandrië
Aartsbisdom Goeie Hoop
Ons Primaat
Sy Saligheid, Theodoros
Pous en Patriarg van Alexandrië
Sy Eminensie, Aartsbiskop Sergios
Metropoliet van die Aartsbisdom Goeie Hoop
is ons Biskop: Nog baie jare!
Welkom by die tuisblad van die eerste Ortodokse Gemeenskap in Suid-Afrika wat tot stand gekom het met die spesifieke doel om 'n geestelike en kulturele tuiste te help skep vir veral Afrikaanssprekendes wat belangstel in die Ortodokse Christelike geloof. Die Ortodokse Kerk het 'n historiese kontinuïteit wat direk na die vroegste Christelike gemeentes terugstrek en 'n leer wat getrou aan die Skrif, die Apostels, die Kerkvaders en die sewe Ekumeniese Konsilies van die historiese Kerk gebly het.
Ons vier tans op gereelde grondslag die Vesperdiens (die amptelike Aandgebed van die Kerk) en die Liturgie (die Nagmaaldiens) in ons kapel op Robertson, wat gewy is aan die Heilige Maria die Egiptenaar, een van die merkwaardigste vroue van die vroeë Kerk. Almal, ongeag ras, etniese groep of velkleur, is welkom om in Afrikaans saam met ons te kom aanbid.
Ons priester is Vr. Zacharias van Wyk.
Die woord "ortodoks" beteken, terloops, "regte aanbidding". Mag u deur hierdie bladsye iets van die onbeperkte skat van die vroeë Kerk ontdek, die Kerk wat, hoewel dit al twee duisend jaar oud is, nog altyd die wonderskone bruid van Christus gebly het en wat nooit oud of oudmodies raak nie.
Die Ortodokse Bedehuis,"Betanie", te Keurkloof, Robertson.
Die bedehuis en die kapel wat gewy is aan die Heilige Maria die Egiptenaar. Die priester se woonkwartiere is op die foto, regs.
Die viering van die Liturgie en ander liturgiese dienste vind op 'n gereelde grondslag in Afrikaans plaas. Die algemene dienstye is soos volg:
Saterdae om 5nm: Groot Vespers
Sondae om 9vm: Die Goddelike Liturgie
Weeksdae: Vespers om 5:30
ALLE BELANGSTELLENDES IS BAIE WELKOM BY ALLE DIENSTE!
Vader Zacharias van Wyk voor die deur van die Bedehuis
______________________________________________________________________________
Die eiendom waarop ons retrêthuis geleë is, is 'n kleinhoewe ongeveer drie kilometer buite die dorp Robertson en het 'n asemrowende uitsig op die Langeberge. Dit is die ideale uitspanplek vir siele wat smag na stilte en is tot die beskikking van enigiemand wat eerlik en opreg soek na God. In die kapel, gewy aan die Heilige Maria, die Egiptenaar, (seker een van die merkwaardigste vroue in die Kerk se geskiedenis; wie se verhaal binnekort op ons webblad sal verskyn) kan mense in 'n Ortodokse atmosfeer mediteer en bid.
Die retrêthuis is ook die basis vir 'n Ortodokse uitreiking na die gemeenskap van Robertson en omgewing.
Hieronder volg 'n paar fotos van die omgewing van die retrêthuis.
Sneeu op die Langeberge, soos gesien vanaf ons retrêthuis, Betanië
Die koepel van die kapel, soos gesien van die agterkant van die kapel.
Uitsig vanaf die agterdeur van die Bedehuis
Onder by die dam.
Tussen die wingerde, foto geneem van die plaaspad af.
Gedurende die winter, 2007
Nog 'n foto gedurende die winter, 2007