Vir die meeste Afrikaanssprekendes is die Ortodoksie iets totaal vreemd. Soms word dit selfs verwar met die Ortodokse Jodedom. Vrae wat 'n mens voortdurend teëkom, is vrae soos die volgende: "Glo julle in Jesus?" Glo julle in die Drie-eenheid?" "Is julle soos die Katolieke?" "Bid julle deur Maria?" Hopelik sal die inligting wat hieronder volg, bydra tot die bekendstelling van die Ortodokse Christelike geloof aan Afrikaanssprekendes en van die wanopvattings uit die weg ruim wat so baie mense het.
Daar word dikwels gesê dat as 'n mens wil weet wat die Ortodoksie leer, 'n mens moet gaan kyk na die Liturgie van die Ortodokse Kerk, want wat die Kerk leer, is wat die Kerk bid. Daarom word die
Liturgie van die Heilige Johannes Chrysostomos hier ingesluit. Hierdie Liturgie is die basiese Liturgie van die Ortodokse Kerk en het sy ontstaan gehad in Konstantinopel, waar die Heilige Johannes Chrysostomos in die 4de eeu die aartsbiskop was. Hy het die Liturgie wat destyds in gebruik was ie***** verkort en hierdie verkorte weergawe daarvan het gou die norm geword in die hele Bisantynse wêreld.
Vir iemand wat vir die eerste keer met die Liturgie te doen kry, is dit 'n nogal ingewikkelde en skynbaar rigiede manier van aanbidding. 'n Uitstekende
kommentaar op die Liturgie deur biskop Paul van die Finse Ortodokse Kerk, is egter 'n nuttige begeleier deur hierdie kompleksiteite van die Liturgie en is 'n wonderlike blootlegging van die dieptes van die rituele, gebruike en simbole van die Liturgie.
Die Liturgie is die Nagmaaldiens van die Ortodokse Kerk en ter voorbereiding vir die ontvang van die Liggaam en die Bloed van Christus gedurende die Nagmaal, word sekere gebede voorgeskryf. So is daar ook gebede wat voorgeskryf word ter danksegging ná Kommunie. Hierdie pragtige
voorbereidings- en dankseggingsgebede kom meesal uit die eerste vyf eeue van die Kerk se geskiedenis en gee 'n aanduiding van die Kerk se onveranderde en onwrikbare geloof in die waaragtige teenwoordigheid van Christus onder die gedaantes van Brood en Wyn in die Nagmaal, en die gesindheid van ootmoedigheid en nederigheid waarmee die Kommunie benader moet word.
Ook word 'n aantal Ortodokse
gebede vir daaglikse gebruik ingesluit. Dit sluit in: oggend- en aandgebede, gebede vir getroudes, gebede vir reisigers, gebede vir sakemense, gebede vir siekes en gebede vir afgestorwenes.
Daarbenewens is daar
tafelgebede, met gebede wat gebid word vóór en ná ontbyt, middagete en aandete.
'n Kenmerk van Ortodokse kerke is dat hulle vol ikone is en dat Ortodokse Christene hierdie ikone vereer deur daarvoor te buig en hulle te soen. Ook bewierook die priester die ikone tydens eredienste. Is die verering van
ikone nie dalk afgodediens nie? Wat leer die Ortodokse Kerk? In hierdie uittreksel, wat afkomstig is uit 'n brief aan 'n katkisant, sit 'n Ortodokse priester op 'n besondere wyse uiteen wat die leer van die Kerk in verband met hierdie belangrike onderwerp is.
Voorts kan veral drie boeke in Engels aanbeveel word wat 'n deeglike en grondige uiteensetting van die basiese Ortodokse leer, Tradisie en gebruike weergee:
"The Orthodox Church" deur Timothy Ware - 'n publikasie van Penguin Books.
"The Orthodox Way" deur Kallistos Ware - 'n publikasie van St. Vladimir Press, New York.
"Eastern Orthodox Christianity - A Western Perspective" deur Daniel B.Clendenin- 'n publikasie van Baker Books, Grand Rapids, Michigan.
Copyright © by afrikaans-ortodoks.co.za All Right Reserved.