Homoseksualiteit is ‘n kwessie wat vandag baie aandag kry.
In die media word homoseksuele verhoudings voorgehou as bloot ‘n alternatief vir heteroseksuele verhoudings en dus in wese van die selfde aard. Enige ander beskouing van die saak word gesien as die middeleeuse en agterlike denke van ‘n klompie fundamentalistiese Christene wat uit vooroordeel en onkunde nog nie die moderne wêreld betree het nie. Hierdie agterlikheid moet dus met wortel en tak uitgeroei word.
Aan die ander kant is daar fundamentalistiese groepe wat ‘n haat vir mense met ‘n homoseksuele gerigtheid openbaar wat onversoenbaar is met die Christelike gebod van die liefde. Hierdie mense beskou homoseksualiteit as een van die grootste sondes denkbaar; dus moet hulle wat dit beoefen uit die samelewing uitgeroei word.
Die waarheid lê vir die Ortodokse Kerk nie in een van dié twee beskouings nie. Die Ortodoksie sien die mens, alle mense, as gevalle wesens. Almal, sonder uitsondering, lei nie naastenby die soort lewens wat ons volgens die oorspronklike plan van God veronderstel is om te lewe nie. Daarom ook dat Jesus vir ons sê om eers die balk in ons eie oog uit te haal sodat ons mooi kan sien om die splinter in ons naaste se oog te kry.
Dit beteken dat homoseksualiteit nie los gesien word van die gevallenheid van die mens as sodanig nie. Dit is egter ook so dat die Ortodokse Kerk homoseksualiteit sien as nie volgens die wil van God nie, soos ook voorhuwelikse seks, buite egtelike seks, trouens, enige seksuele aktiwiteit buite die huwelik, insluitende masturbasie. In populêre tydskrifte word mense dikwels aangemoedig om te masturbeer, omdat dit spanning verlig, ensovoorts. Dat masturbasie gepaard gaan met fantasieë waarby ander mense betrokke is, is van geen belang nie. Dat Jesus gesê het dat as ‘n mens net in jou gedagtes ‘n daad pleeg, jy dit in werklikheid gedoen het, is vir die moderne wêreld van geen belang nie; dit is alles outydse preutsheid en ‘n teken van onvryheid en gebondenheid aan waardes wat lankal nie meer vir denkende, moderne mense geld nie.
Dit is dus duidelik dat die Ortodokse Kerk nie ‘n buitengewone standpunt oor homoseksualiteit huldig nie; homoseksualiteit word, saam met alle ander vorms van seksuele bedrywighede, in woord, daad of gedagte buite die huwelik, gesien as maar net nog een van die tekens van die gevallenheid van die mens . So was dit dan die leer van die Kerk vanaf die begin af, soos ons dit van die Apostels gekry het, dat die huwelik die instelling is waarbinne die mens sy seksualiteit as mede-skepper saam met God moet uitleef. Die gedagte van seks vir ontspanning (“recreational sex”) en ander sodanige hedendaagse beskouings druis reëlreg in teen die tydlose leer van die Kerk.
Die Ortodokse Kerk is dus nie as sodanig ‘n “gay”-vriendelike Kerk nie; dit is egter sonder twyfel ‘n sondaar-vriendelike Kerk, want die Kerk is per slot van rekening ‘n hospitaal vir geestelik en moreel siek mense, met ander woorde die ganse mensdom. Dit is die plek waar ons as gebroke en siek mense na die Geneesheer van ons siele kom, om genesing te vind. En die medisyne wat die Geneesheer in die Kerk vir ons gee, is die Sakramente, veral, na die Doop, die bieg en die ontvang van die Liggaam en die Bloed van Christus, sodat ons kan begin groei en ontwikkel in die mense wat ons volgens die oorspronklike plan van God eintlik is. Enigeen wat sy of haar sonde erken en worstel om daarvan los te kom, is in die Ortodokse Kerk welkom, ongeag hoeveel keer soiemand in sy of haar menslike swakheid misluk en nie daarin slaag om dit te bereik wat hy of sy wil nie. ‘n Monnik is op ‘n keer deur iemand gevra: “Nou wat doen julle daar in die klooster?” En sy antwoord was: “Ons val en ons staan op. En dan val ons weer en dan staan ons weer op.” Die regverdiges het die Kerk nie nodig nie, soos Jesus self aangetoon het. Om egter te wil voorgee dat homoseksuele dade bloot ‘n alternatief vir ‘n gesonde heteroseksuele huwelik is, en dit in die Kerk te wil verkondig en uitleef, is soos ‘n alkoholis wat nie wil erken dat hy ‘n probleem met drank het nie; solank dit sy houding is, bly hy vasgevang in sy siekte en sal opname in die hospitaal van geen nut wees nie.
Dit moet al klaar duidelik wees dat dit vir ons almal eintlik maar die beste sou wees om niks oor ander se doen en late te sê nie, want elkeen het maar sy eie stryd op seksuele vlak. Dit kan byvoorbeeld verslawing wees aan pornografie en masturbasie, of ‘n buite-egtelike verhouding, of met wellus na jou buurman se vrou kyk, of jou seksueel buite die huwelik uitleef. Omdat ‘n sonde heteroseksueel van aard is, maak dit natuurlik niks meer aanvaarbaar as ‘n homoseksuele daad nie. Seksuele praktyke buite die huwelik, homo– en heteroseksueel, is vir almal ‘n saak vir die bieg. Buite die bieg is die stilswye, oor veral ander se sondes, die enigste Christelike keuse.
Terwyl ‘n mens dan in gedagte hou dat homoseksualiteit nie los gesien kan word van enige ander seksuele bedrywigheid buite die huwelik nie, kan daar tog net vlugtig en redelik oppervlakkig verwys word na die gronde vir die Kerk se beskouing dat homoseksuele dade nie volgens die wil van God is nie. Die Bybelteksverse wat dikwels aangehaal word, en nie hier herhaal word nie, is vanselfsprekend. Maar waarom is die Bybel dan gekant teen homoseksuele dade? Is God dan maar net Iemand wat reëls en regulasies uit Sy duim gesuig het, net om dinge vir mense op aarde moeilik en selfs onmoontlik te maak? Allermins! Daar is al hoe meer aanduidings dat ‘n homoseksuele gerigtheid iets is wat ontwikkel. Iemand word nie daarmee gebore nie. (Kyk die artikel van Dr. G. van den Aardweg: “Homosexuality and biological factors: Real evidence- none; misleading interpretations: plenty.” In die The NARTH Bulletin, Winter 2005, 13, 3, 19-28.) Dit is dus die gevolg van ervarings, veral binne die gesin, wat daartoe lei dat mense op ‘n sekere vlak onaanvaarbaar en minderwaardig voel en dan as “halwe” mens, voltooiing soek in die ander (“vicarious living”). Verhoudings wat so ontstaan, word gekenmerk deur fantasie- en sado-masochistiese elemente waar een van die persone die god is en die ander die aanbidder. Hierdie afgodediens verbrokkel gewoonlik baie vinnig en so word die soektog na ‘n nuwe god of ‘n nuwe aanbidder weer opgeneem. Enigeen wat eerlik na homoseksuele verhoudings kyk, sal moet erken dat dit ‘n wesenskenmerk daarvan is. (Ook ongesonde heteroseksuele verhoudings het dikwels hierdie kenmerk, maar is nie wesenlik aan heteroseksualiteit nie.) Die grondoorsaak vir die ontwikkeling van ‘n homoseksuele gerigtheid lê dus hoofsaaklik in tekortkominge, gebreke of selfs ernstige steurings binne die gesin. ‘n Mens kan dus verwag dat namate die gesin as instelling al hoe verder verbrokkel, homoseksualiteit ook sal toeneem.
Mense reageer dikwels op bogenoemde met "ja, maar ek het geen probleem met my pa of my ma gehad nie en tog is ek "gay"". By 'n eerste oogopslag was daar moontlik geen probleem nie, maar as 'n mens 'n bietjie begin delf, vind jy dat die sogenaamde probleemlose verhoudings tussen ouer en kind eintlik nie is wat 'n mens aanvanklik sou kon gedink het nie, en was die situasie baie meer kompleks as by 'n eerste kennismaking.
Hoewel 'n genetiese element in die ontwikkeling van 'n homoseksuele oriëntasie nie noodwendig 'n onmoontlikheid is nie, ly dit geen twyfel nie dat sodanige moontlike element dikwels deur die 'gay' establishment sonder deeglike wetenskaplike navorsing gebruik word as bewys van die "normaalheid" van seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. As jy so gebore is, moet dit mos reg wees; jy kan dan nie anders nie. En natuurlik is dit waar. Jy kan nie help dat jy is soos wat jy is nie; maar wat jy doen met wat jy is, is die belangrike deel. Party mense is geneties enorm aggressief; hulle hele neiging is om mense net eenvoudig te lyf te gaan en fisies erge leed aan te doen. As hulle dit doen, kan hulle nie maar bloot skuil agter "ja, maar ek is so gebore" nie; daar wag 'n taak op hulle om beheer oor hul aggressiewe natuur te ontwikkel, en vir soiemand is dit dikwels 'n jarelange en selfs lewenslange stryd.
Daar is ook aanduidings dat byvoorbeeld alkoholisme 'n genetiese element het. As iemand dan as alkoholis gebore word, moet hy hom dan aan 'n lewe van alkoholverslawing oorgee? Dieselfde geld vir allergië, of baie ander genetiese oorsake vir toestande waar mense anders moet lewe ten einde hulleself te red. 'n Diabeet moet eenvoudig baie versigtig wees met wat hy eet, as hy nie in 'n koma wil gaan nie. So is daar baie voorbeelde van mense wat om verskillende redes sekere goed nie mag doen nie juis omdat hulle 'n genetiese probleem het.
Die Kerk beskou homoseksuele bedrywighede dus as nie volgens die wil van God nie. Maar die Kerk is ook die hospitaal waar die wonde van alle mense, ongeag die aard van hul geestes-kwellinge, deur die liefdevolle Geneesheer van ons siele verbind en behandel word. Enigeen wat met die nederigheid van die Tollenaar na God toe kom, en soos hy kan sê: “O God, ontferm U oor my, sondaar”, word met ope arms ontvang.
‘n Uiteensetting van die leer van die Rooms-Katolieke Kerk oor homoseksualiteit, wat nie veel verskil van dié van die Ortodokse Kerk nie, en werklik met vrug gelees kan word, kan gevind word op die webblad van die Oratorium van Sint Filip Neri te Outshoorn. Die webadres is:
http://www.dieoratorium.org/index.php?name=News&file=article&sid=14
Copyright © by afrikaans-ortodoks.co.za All Right Reserved.