Welcome to afrikaans-ortodoks.co.za
 
 

  Skakels

  • Inleiding tot die Ortodoksie
  • Geskiedenis van ons Kerk
  • Insiggewende Artikel oor die aard van die Kerk
  • Nuuswaardighede
  • Die Ortodokse Kerk en Homoseksualiteit.
  • Kompakskywe
  • Getuienisse
  • Die Ortodokse Bedehuis
  • Terugvoer
  • Foto Galery
  •  

      Aanbevole leesstof

     

      Aflaai-bladsye

    Afrikaanse Ortodokse Liturgiese en ander verwante tekste
     

     
      Getuienisse




    1. Die getuienis van Wladimir (Wynand) de Beer

    Nie almal wat vir My sê: "Here, Here," sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie,
    maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Mat 7:21

     
    Die doel van hierdie bladsye is nie om ander kerke te kritiseer of ander gelowe aan te val nie. Dit weerspieël die paaie wat mense geloop het voordat hulle hul tuiste in die Ortodoksie gevind het.


    Jeug en opstand

    Ek het in ‘n betreklike streng Calvinistiese huis grootgeword, wat gedurende die sestiger- en sewentigjare op die Afrikaanse platteland nie juis ongewoon was nie. Wat wel ongewoon was, was die soekende, peinsende gees wat ek sedert ‘n vroeë ouderdom openbaar het. ‘n Gees wat aanvanklik bereid was om die konvensionele antwoorde soos deur skool en kerk op my vrae verskaf in goeder trou te aanvaar, maar dít sou nie tot later as my laat tienerjare duur nie. Teen daardie tyd het ek reeds vanweë eie leeswerk en oordenking die Darwiniaanse ewolusieleer aanvaar, wat weldra tot kritiek op die kerklike standpunte oor die ontstaan van die heelal en die lewe daarin gelei het. Hierdie verwikkeling, tesame met die meer algemeen-jeugdige gees van opstand teen gesag waarvoor ek hoogs ontvanklik was, het daartoe gelei dat ek gedurende my matriekjaar in intellektuele skermutselings met kerklike figure op die dorp betrokke geraak het. Versterk deur akademiese voortreflikheid het hierdie ongewone gebeure aan my ‘n mate van omstredenheid in kerklike kringe, sowel as ‘n sekere status onder sommige van my mede-leerlinge, besorg.

    Vir Christus

    Minder as ‘n jaar na my skoolverlating sou my geestelike soeke bevredig word, ten minste vir ‘n aantal jare. Hoe het dit gebeur? Laat een wintersnag het ek in ‘n toestand van innerlike worsteling besluit om tot Christus te bid, en Hom te vra om in my lewe te kom en my van sonde te verlos. Ek het daarop gaan slaap, en die volgende oggend opgestaan met vreugde in my hart en kalmte in my gemoed. Spoedig het ek begin om die Nuwe Testament met nuwe oë te lees, in ‘n stelselmatige deurwerking vanaf die Johannesevangelie tot by die Openbaring van Johannes. Dit was veral die briewe van Paulus wat my aangegryp het met hul helderheid en oortuigingskrag, asook dié van Jakobus met sy praktiese geestesraad.

    Binne enkele maande het ek begin om ook dienste in ‘n pinksterkerk saam met vriende by te woon. Vanuit die staanspoor was ek aangetrek deur die oënskynlike geesdrif en spontaneïteit van hul aanbidding, sodat my volskaalse oorgang na die pentekostalisme ‘n jaar later nouliks as ‘n verrassing gekom het vir diegene wat my goed geken het. Ek het deur die ritueel van doop by wyse van onderdompeling gegaan, gevolg deur charismatiese uitinge enkele maande later. Só groot was my geesdrif daarvoor dat ek kort voor my mondigwording begin het om voltydse jeugwerk vir dieselfde kerk te doen, maar ontnugterd met die skynheiligheid en geestelike hoogmoed waarmee ek gereeld daardeur te doene gekry het, het ek ná slegs ‘n kwartaal uit die werk bedank en na my tuisdorp teruggekeer.

    Vir ‘n verdere jaar of twee sou ek ‘n aktiewe lidmaat van die pinksterkerk wees, maar vanaf my vroeë twintigs sou hernieude twyfel oor die charismaties-fundamentalistiese aansprake my beetpak. Waaraan sou dit te wyte kon wees? Minstens twee bydraende faktore kan uitgewys word, een liturgies en een akademies van aard. Sover dit die eredienste betref, het ek algaande alte dikwels die meganiese onderbou van ‘n oënskynlik charismatiese liturgie agtergekom - ‘n meganiese handegeklap tydens sang, meganiese beamings en selfs meganiese talespraak. Aan die akademiese kant het studies in Bybelkunde dit vir my laat blyk dat die Bybel geensins ‘n monolitiese, onfeilbare geskrif is nie, maar eerder ‘n versameling (dikwels fragmentariese) geskrifte wat oor meer as ‘n millennium deur ‘n groot aantal outeurs met uiteenlopende oortuigings neergepen is. Hoe kon die kerke dus daarop aanspraak maak dat dit die gesaghebbende, geïnspireerde Woord van God is? Eers veel later sou ek daarmee vrede maak dat die Gees van God inderdaad van feilbare, menslike dokumente gebruik kan maak om tot die menslike gees te spreek.

    -2-

    ‘n Tydelike beswering van my vertwyfeling het verskyn in die vorm van ‘n volskaalse inwerping in Christelike filosofie en teologie. Dit was veral Kierkegaard met sy sogenaamde Christelike eksistensialisme, Tillich met sy diepsinnige Grieks-Christelike synsleer en Dostojewski met sy geestelike vryheidsin, wie se boeke ek verslind het. Maar my self-erkende Christelike eksistensialisme sou nie juis lank duur nie, want slegs ‘n jaar later het ek ook begin om myself in die werke van nie-Christelike eksistensialiste soos Camus, Sartre en veral Nietzsche te verdiep. Die vet was hierdie keer behoorlik in die vuur, en vyf jaar ná my besluit om ‘n volgeling van Christus te word het ek met ‘n langdurige omswerwing buite die Christendom begin.

    Nietzsche, Hindoeïsme en Boeddhisme

    Tesame met my informele dog deeglike bestudering van Nietzsche, wat vir die volgende vyf jaar my gunsteling-denker sou wees, het ek begin om Godsdienswetenskap te studeer. In die eerste jaar daarvan het ek met die ryk tradisie van Hindoeïsme kennis gemaak, en was vanuit die staanspoor diep beïndruk met veral die metafisika van die Oepanisjads. Hul panteïsme het ek as ‘n vooruitgang op die konsep van ‘n persoonlike God ervaar, terwyl die leer van hergeboortes van ‘n onsterflike siel ooreenkomstig die onpersoonlike werking van die Wet van Karma my intellektueel meer bevredig het as die Christelike leer van ‘n opstanding uit die dode om geoordeel te word.

    Verdere studies in Hindoeïsme en ‘n ontdekking van Boeddhisme het my daarvan oortuig dat daar ‘n enorme Indo-Europese geestelike tradisie bestaan, wat in onder meer dié twee Indiese religieë asook in vergange Europese religieë soos Hellenisme en Odinisme tot uiting gekom het. In navolging van denkers soos Nietzsche en die Nasionaal-Sosialistiese ideoloog Rosenberg het ek begin glo dat die Christendom ‘n vreemde, Midde-Oosterse inplanting op die egte Europese siel is, en as sulks ‘n geestelik afbrekende effek gehad het en dit steeds doen. Die Christendom moes dus vervang word deur ‘n Indo-Europese religie om blywende geestelike skade te voorkom, maar die vraag was: met wat? Om die vergange Europese religieë te probeer herleef sou ‘n oefening in nutteloosheid wees, want wanneer ‘n religie eers die simboliese krag daarvan verloor het, is dit onmoontlik om dit as ‘t ware uit die dode op te wek. Insgelyks sou dit ook nie help om die Indiese religieë te probeer invoer nie, want hulle is kultureel te vreemd aan die Westerse mens.

    ‘Ariese’ Christendom

    ‘n Uitweg uit my dilemma het te voorskyn getree in die werke van Campbell en veral Elletson, wat ‘n ‘Aries-Christelike’ geloof voorgestaan het. Daarin is Christus vereer op grond daarvan dat Hy na bewering ‘n ‘Ariër’ was wat deur God na die wêreld gestuur is om sy rasgenote van Joodse geestelike invloede te bevry. Die Nuwe Testament is erken maar uiters selektief aangehaal, terwyl die Ou Testament as ‘n boosaardige Joodse dokument verwerp is. Hierdie siening kan beskou word as ‘n hedendaagse voortsetting van die antieke gnostiese leer van twee gode, een bekend en boosaardig (dit is die God van die Ou Testament) en ‘n ander onbekend en goed (dit is die God van die Nuwe Testament), met ‘n rasse-dimensie daaraan toegevoeg. Ek het dit geesdriftig as ‘n geskikte teenvoeter vir die ‘Joods-Christelike’ geloof onder Westerlinge aangegryp en in my geskrifte verkondig.

    Dat hierdie ‘geloof’ later sou blyk ‘n grootskaalse verdraaiing van die Christelike evangelie te wees, het ek op daardie stadium helaas nie kon voorsien nie. En dat dit, indien suksesvol, tot onverkwiklike anti-Joodse gevoelens en dalk selfs optredes sou kon lei, staan nie te betwyfel nie. Gelukkig vir die betrokkenes het dit nooit so ver ontwikkel nie.

    -3-

    Gedurende hierdie tydperk, toe ek in my vroeë dertigs was, het ek gereeld dienste in een van die apostelsektes bygewoon, vanweë ‘n behoefte aan eredienste en veral aan gewyde musiek. Aanvanklik was ek beïndruk met hul wêreldwye eenvormigheid in gesagstrukture en liturgie, asook hul verfrissende apolitiese houding. Privaat het ek egter my ‘Aries-Christelike’ geloof behou, ten minste vir etlike jare. Mettertyd het die sekte se aansprake om die enigste ware kerk van Christus op aarde te wees, en hul aandrang dat hul apostels die enigste bedienaars van God se genade is, my toenemend afgeskrik, sodat ek teen my middel dertigs nogeens kerkloos en geestelik soekende was.

    Na ‘n globale geestelikheid

    Net mooi ‘n dekade ná my ontdekking van Hindoeïsme het ek myself opnuut in die Oosterse denke gewerp, veral in Hindoeïsme, Boeddhisme en Taoïsme. Hierdie keer het ek egter besluit om die leer van hergeboortes, of reïnkarnasie soos dit in die Weste bekendstaan, nie slegs as ‘n teoretiese moontlikheid te erken nie, maar om dit dieper te ondersoek. Ek het daarop twee sessies regressie-terapie ondergaan, om vas te stel of ek enige vorige lewens kon oproep. Die resultaat daarvan was inderdaad verrassend: Ek was daarvan oortuig dat ek vlietende herinneringe van vier vorige lewens uit die dieptes van my onderbewussyn te voorskyn gebring het. Soos in die geval van my aanvaarding van Christus as verlosser vyftien jaar tevore, het ek in die dae en weke daarop ‘n diepe vreugde en kalmte ervaar, met selfs nog minder vrees vir die dood as voorheen.

    Weldra sou ek my studies in Godsdienswetenskap voortsit, met spesialisering in Boeddhisme en die Nuwe Era-beweging. Ek het daarbenewens begin met Boeddhistiese meditasie, maar het gevind dat ek nie oor die dissipline beskik om dit gereeld of langdurig te beoefen nie. Dus het ek probeer om eerder die Agtvoudige Weg van die Boeddha in die praktyk uit te leef, om daardeur in die rigting van geestelike verligting te beweeg. Ook die Taoïstiese leer van gelykmatigheid en balans is nagestreef, in ‘n opregte poging om in harmonie met die natuurlike wêreld te leef. Deur my hernieude studies het ek voorts die belangrikheid van die mistieke ervaring, waardeur die mens met God (of die Absolute in die geval van nie-teïstiese religieë) verenig word, in verskeie van die groot religieë besef. Mistiek kon selfs beskou word as die geestelike kern van alle ware religie, ongeag die uiterlike gestaltes wat dit mag aanneem.

    Langs dié weg het ek in die rigting van ‘n globale geestelikheid beweeg, waarin die mees waardevolle elemente uit ‘n hele aantal verskillende religieë tot ‘n nuwe, hoër geestelikheid as ‘t ware versmelt word. Die Nuwe Era-beweging, wat volgens eie erkenning in ‘n hoë mate na Teosofie teruggevoer kan word, is as ‘n positiewe stap in daardie rigting beskou. Deur ‘n doelgerigte aflegging van slegte denkpatrone en verkeerde handelinge sou die mens, of ten minste dan ‘n geestelik-bewuste minderheid mense, oor lang ewolusieprosesse heen (beide biologies en geestelik) volledig van die stoflike sfeer bevry word en self gode word. Altans, só is daar geglo en aanvaar. Ook deur myself, maar dit sou nie vir langer as ‘n jaar of twee die geval wees nie.

    Ortodokse Christendom

    Op nog ‘n wintersdag, agtien jaar ná my besluit om ‘n volgeling van Christus te word, het ek ervaar dat ek aan die einde van my geestelike kragte gekom het. Ná meer as ‘n dekade van rondswerf buite die Christelike kerk het ek met ‘n skok besef dat my langdurige strewe om ‘n selfstandige bestaan in die krag van die ‘innerlike god’ te voer, uiteindelik op niks uitgeloop het. Ná al die intellektuele gespook en gespartel was ek aan die einde daarvan steeds wat ek aan die begin van my swerftog was: ‘n sondige, verlore mens, verwyderd van die ware God en

    -4-

    sonder hoop vir my geestelike toekoms. Ek het besluit om myself opnuut aan Christus toe te wy, en het begin om vir die eerste keer in baie jare die Bybel weer met gelowige oë te lees.

    Maar waarheen dan verder? ‘n Bloot private navolging van Christus, sonder enige gemeenskap met medegelowiges of deelname aan die sakramente? Aanvanklik het ek dit as oplossing oorweeg, alhoewel een met ‘n taamlik troostelose vooruitsig. Want in ‘n terugkeer na een van die twee vertakkings van die Christendom waarin ek vroeër aktief was, naamlik die Calvinisme en die pentekostalisme, het ek eenvoudig nie belang gestel nie, om van ‘n apostelsekte nie eers te praat nie.

    Gelukkig het die oplossing vir my dilemma binne enkele dae geheel en al onverwags verskyn in die vorm van ‘n koerantberig oor ‘n Afrikaanse gemeente-in-wording van die Oosterse Ortodokse kerk. Uit blote nuuskierigheid het ek by die eerste geleentheid ‘n diens gaan bywoon, en wat ‘n ervaring was dit nie vir my liturgies-honger siel nie! Die aangename belewenis van ryk kleure, wierook, kerse en ikone wanneer die gebedekamer binnegekom word, het die vreemdheid daarvan vir my met my Protestantse agtergrond spoedig verdryf. Tesame met die onbegeleide samesang en die kort dog treffende prediking, het ek dadelik besef dat ‘n diepliggende behoefte in my siel daardeur vervul word.

    Weldra het ek myself ook in die Ortodokse teologie begin verdiep, en tot my verrassing het ek ‘n enorme ryk en diepsinnige geesteswêreld daarin ontdek. Vir die eerste keer het sulke belangrike aspekte van die Christelike verkondiging soos die Goddelike Drie-Eenheid, die maagdelike geboorte en vleeswording van Christus, die verering van Maria as die Moeder van God, die gebruik van ikone, en die aard van boosheid as verwydering van God vir my volkome sin gemaak. Altans, veel meer só as ooit in die verlede.

    Ook my filosofiese inslag is bevredig deur die Ortodokse tradisie van apofatiese of negatiewe teologie, waarin daar veel meer gesê word oor wat God nie is nie as oor wat God is, en dikwels bloot stilgebly word voor die ontsagwekkende en onpeilbare misterie van die Drie- enige God. Voorts was ek aangenaam verras om onderskraging te vind vir ‘n benadering wat ek lank tevore reeds gevolg het, naamlik dat die Godheid beide transendent en immanent is. In die Ortodoksie word daar in dié verband onderskei tussen die essensie en die energieë, of dade, van God. Terwyl die essensie van God radikaal transendent en dus vir die mens algeheel onkenbaar is, is die energieë van God vir die mens toeganklik, onder andere in die sakramente. Op dié intellektueel elegante dog teologies verantwoordbare wyse word die misterie van God enersyds en die moontlikheid van ‘n persoonlike ontmoeting tussen God en mens andersyds erken.

    Deur middel van die Ortodokse liturgie en kort daarna die Ortodokse teologie het ek dus tot die Christendom teruggekeer. Om presies te wees, tot die mees egte vertakking daarvan, met ‘n historiese kontinuïteit wat direk na die vroegste Christelike gemeentes terugstrek en ‘n leer wat getrou aan die Skrif, die Kerkvaders en die sewe Ekumeniese Konsilies van die verenigde Kerk gebly het.

    Eer aan God die Vader, die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot in ewigheid!

    Mag die gebede van die Moeder van God en al die Heiliges met ons wees.

    Wynand de Beer

    November 1998






    2. Die Getuienis van Magdalena (Anneen) Steyn-du Rand


                                                                           


    Om Ortodoks te word

    Vir die eerste 30 jaar van my lewe het ek myself as ‘n Christen beskou.  Ek het nie aan die Christendom weier as Protestantisme gedink nie.  My manier van ‘n Christenwees was maar na my mening dié manier van Christenwees.  Ek het vriende in ander denominasies gehad (ook Protestants) en hulle ook as “reg” beskou. 


    Na ek 30 geword het, het ek gaandeweg meer en meer ontnugter gevoel deur die Christendom en in 2000 het ek my Christenskap laat gaan soos ‘n dik, swaar jas in die middel van die somer.  Daar was vir my ‘n al groter beklemming rakende Christenskap. 


    Ek het ander gelowe begin ondersoek en geëksperimenteer met verskillende geestelike praktyke.  Ek was veral geïrriteerd met Christene se beskouing dat hulle dié waarheid het, absoluut en dat al die ander verkeerd en verdoem is.  Ek het my rug heeltemal op die Christendom soos ek dit geken het, gedraai.  Alhoewel ek steeds in God of ‘n Opperwese geglo het, het ek nie meer Jesus as God se Seun beskou nie.  Vir my was hy niks meer as ‘n groot geestelike of profeet nie.  Ek het ook nie meer geglo dat hy opgestaan het uit die dood en na die hemel opgevaar het nie.  Ek was oortuig dat ek nooit weer ‘n Christen sou wees nie.  Ek onthou dat ‘n kollega in 2000 vir my gesê het dat ek nie regtig myself kan losmaak van Christus nie; ek sal weer na Hom terug.  Ek het meewarig geglimlag.


    Sedert 2004 woon ek in Robertson.  Vir twee jaar het ek gewerk as ‘n terapeutiese refleksoloog en het met baie sg. “new age” mense kennis gemaak.  Sommige van hulle het na Vader Zacharias as terapeut verwys.  Ander mense het gepraat van sy Bedehuis.  Ook ‘n baie goeie en jarelange vriendin het my vertel van die Priester en die Bedehuis.  Alhoewel ek na buite baie tevrede met my "new age" - pad was, was ek maar baie soekende na ‘n geestelike tuiste.  Ek het bv. vir omtrent ‘n jaar lank na ‘n Sufi meditasiegroep gegaan. 


    In Januarie 2007 het ek vir die eerste keer begin skool hou.  ‘n Kollega wou weet in watter kerk ek is.  Ek het gesê dat ek nie kerk toe gaan nie en nie eintlik meer in die Bybel glo nie.  Sy was baie onthuts en het gesê, “Kind, jy moet kerk toe gaan.”  ‘n Paar dae later wys ek vir haar die advertensie van die Ortodokse Kerk van Maria die Egiptenaar in ons plaaslike advertensieblaadjie.  “Ken jy die mense, Martie?” vra ek haar.  “Ja, ek ken vir Vr Zacharias.  Ek het al saam met hulle gesing.  Gaan soontoe.  Gaan kyk hoe dit is.”  En toe gaan ek .  En ek hou nie op nie.  Na die eerste Vespers (aandgebede) en Liturgie het ek gedink dat ek dit baie geniet het, maar dat ek nie in die Jesus en Drie-eenheid en Verlosser stukkies glo nie.  My kop en hart het nie saamgestem nie.  Gelukkig (genadig?) het ek na my hart geluister en aanhou gaan.  Gaandeweg het my twyfel weggesypel en plekgemaak vir ‘n opwinding, verootmoediging en diepe dankbaarheid.  Ek is baie oortuig dat God my teruggebring het, ten spyte van my eie denke en vaste oortuigings.   As ek terugkyk oor die sewe jaar wat ek “weg” was van God, besef ek dat ek diep binne-in my ‘n woestynlewe gelei het.    Ek was aan die stry en wroeg met myself en met alles wat vir my bekend was van die Christendom.  Met die Pasga-dienste van 2007 is ek in die paasdienste gekonfronteer met die verraad van Petrus.  Petrus was op daardie oomblik Anneen wat nie net drie maal nie, maar sewe jaar lank vir Jesus verraai het.  Dit was vir my ‘n finale keerpunt terug na die mensliewende Vader, Seun en Heilige Gees van die Drie-enige God.


    Die Ortodoksie is vir my ‘n pragtige nuwe manier om God te beleef, te dien en te aanbid.  Die Ortodoksie is vir my nie net ‘n godsdiens nie, maar meer en meer ‘n leefwyse:  Dit omvou my op verskillende vlakke – fisies (bv. vas, diep buigings, kniel), sielkundig (bv. meditasie en gebedsrituele) en geestelik (liturgie met kommunie, eerbetoon aan ikone, Jesus-gebed en persoonlike gebed). 


    Om ‘n geestelike verlamde persoon na Jesus te bring.

    Een van die eerste Ortodokse preke wat ek gehoor het, was oor die verlamde man, wie se vriende hom deur die dak laat afsak het na Jesus se voete.  Ek beskou Vader Zacharias as iemand wat my gehelp het om by Jesus se voete uit te kom, sodat Hy my van my geestlike verlamming kan genees.  Hy het my ook bekendgestel aan hierdie baie ou, maar tog verfrissende manier van ‘n Christen wees, naamlik die Ortodoksie.


    Gesalf in die Naam van die Vader, en die Seun, en die Heilige Gees .

    Op 15 September 2007 het ek my eerste en baie bevrydende bieg gedoen en op 16 September 2007 is ek gesalf as lid van die Ortodokse kerk.  Ek het gekies om van toe af as Magdalena bekend te staan in die Ortodokse gemeenskap.  Maria Magdalena het gekies om na Jesus te luister eerder as skarrel met huistake.  Sy het ook Jesus se voete met kosbare nardussalf gesalf en die wonderlike geur met haar saamgedra deur sy voete met sy hare aftedroog.  Sy is die eerste persoon wat die Evangelie boodskap dat Jesus opgestaan het, vir die ander dissipels vertel het.  Haar eerste ontmoeting met Jesus is as hy sewe duiwels uit haar uitdryf en dan word sy gekroon met die voorreg om die eerste Evangelis te wees.  Mag ek maar net ‘n bietjie van haar toewyding en liefde vir Christus in my eie lewe ervaar.














    Copyright © by afrikaans-ortodoks.co.za All Right Reserved.

    Published on: 2007-02-28 (1265 reads)

    [ Go Back ]
     
     

    Content ©

     
     
    Built And Hosted By Symeone Solutions c.c. We Smooth IT Over.
    Copyright © 2006 By Symeone Solutions c.c. We Smooth IT Over.